Perdemonument

Port Elizabeth is die tuiste van een van net twee monumente in die wêreld wat spesifiek opgesit is vir perde.  Derduisende perde is na die Kaapkolonie gebring vir die Britse troepe wat in die Anglo Boereoorlog tussen 1899 en 1902 teen die Boeremagte geveg het.  Die meeste van hierdie perde is deur Algoabaai ingebring en geskiedenis wys dat meer as 300,000 perde van siektes, uitputting en hongerte gesterf asook doodgeskiet is. 

Daar was reeds in 1901 ‘n besluit geneem om ‘n monument vir die perde op te rig en ‘n dameskomitee is op die been gebring om fondse in te samel.  Mev Harriet Meyer was aan die hoof van die komitee wat £800 versamel en Joseph Whitehead aangestel het om die standbeel te ontwerp en op te rig.  Die monument is in 1905 op die hoek van Parkrylaan en Rinkstraat bekendgestel en in die 1950’s na sy huidige posisie langs Kaapweg geskuif.
 
Die monument bestaan uit ‘n Britse soldaat wat besig is om sy perd te versorg en die inskripsie daarop sê:
“The greatness of a nation depends not so much upon the number of its people or its territory,
as in the extent and justice of its compassion.”