Die Uilhuis in Nieu-Bethesda

Suid-Afrika is vol van klein dorpies met interessante verhale en plekke om te ontdek, maar een van die wat baie hoog op enige iemand se lys behoort te wees is die Uilhuis in die Karoodorp Nieu-Bethesda.  Nieu-Bethesda lê so 50km noord van Graaff-Reinet en is in 1838 deur Charles Murray, ‘n Nederduitse Gereformeerde dominee van Graaff-Reinet, gestig.  Met die stigting van die dorp het hy gesê, “En laten wy deze plaats nu Bethesda noemen” vanwee die vrugbaarheid van die plek en die aanwesigheid van voldoende water.
.
Nieu-Bethesda was die tuiste van Helen Martins (1897-1976) wat haar ouers se huis op die dorp geêrf het na hulle dood.  Miss Helen het verveeld geraak met haar lewe en omgewing en begin om die huis en tuin te versier met sement, glas en draad.  Sy het later standbeelde in die tuin begin bou en is geinspireer deur tekverse uit die bybel, die poësie van Omar Khayyam en verskeie kunswerke deur William Blake.  Koos Malgas het in 1964 vir haar begin werk en haar gehelp om standbeelde van uile, kamele en mense op te tower.  Die meeste van die mense in die tuin kyk en wys oos omdat Miss Helen so ‘n fasinasie met die Ooste gehad het.
.
Al die jare se werk in en om die huis met gebreekte glas het Helen Martin se oê aangetas en sy het begin blind word.  As gevolg van dit het sy in 1976 op die ouderdom van 78 selfmoord gepleeg deur bytsoda (caustic soda) te drink. Haar wens was dat die huis behoue sou bly as ‘n museum en dit is hoe dit vandag nog is.  Die Uilhuis is regtig ‘n plek waar jy jouself in jou eie gedagtes kan verloor.  In my eie tuin het ek ‘n uil wat ek oorkant die pad van die Uilhuis gekoop het en dit herhinder my daagliks aan my besoek aan hierdie spesiale plek.