Tsitsikamma Kuslyn

Die Tsitsikamma, plek van baie water, is sonder twyfel een van Suid-Afrika se asemrowendste streke. Digte groen inheemse woude waar woudreuse van oor die 800 jaar oud staan word van die blou see geskei deur loodregte kranse.  ‘n Ongerepte kuslyn met wit skuimende branders wat hulleself te pletter slaan op swart rotse.  Dolfyne en walvisse, otters in ‘n sloep, luiperds teen die berg en die skugter Knysnaloerie wat tussen die boomtoppe rondbeweeg.  Stories van houtkappers uit die ou dae, olifantvoetpaaie en wie weet, miskien ‘n bosgees of twee.  Duidelik een van die mooiste en aanloklikste landskappe aan ons land se kus.