Tsitsikamma Inheemse woud

Driehonderd jaar gelede het die inheemse woude van die Suidkaap al die pad van omtrent Mosselbaai tot by Humansdorp in die ooste gestrek.  Gedurende die laat 18de en die 19de eeu is groot dele van die woude afgekap om die aanvraag van hout vir die bou van skepe, die spoorweë, geboue en meubels te bevredig.  Dit gepaart met die groot vuur van 1869 en moderne ontwikkeling het daartoe gelei dat daar vandag net ‘n klein persentasie van die oorspronklike woud oor is met die grootste dele in die Knysna en Tsitsikamma omgewings.  Die meeste van hierdie oorblywende woude word vandag streng beskerm en val binne die Tuinroete-nasionale park.  Die Plaatbos Natuurreservaat seksie van die woud is geleë in die Stormsrivier area aan die oostekant van die park.