Kaappunt se vuurtorings

Kaappunt in die Kaap van Goeie Hoop Natuurreservaat is seker een van die plekke wat die meeste besoekers ontvang in Suid Afrika.  Alhoewel Kaappunt nie die mees suidelikste punt in Afrika is nie, is dit die suidelikste punt van die Kaapse Skiereiland en een van die plekke waarheen besoekers gaan as hulle om die Skiereiland toer.  Die ou Kaappuntvuurtoring by Kaap Maclear is een van twee vuurtorings by Kaappunt en kan bereik word deur of die trappies te klim of die makliker opsie wat die Vlieënde Hollander kabelbaan is te gebruik. Die ou vuurtoring is op 1 Mei 1860 opgerig op ‘n hoogte van 249 meter bo seevlak.  Die toring was egter te hoog en is gereeld in die mis waar dit dan nie deur skepe gesien kon word nie.  Nadat die Lusitania, ‘n Portugese skip, op 18 April 1911 gestrand het, is daar besluit om ‘n nuwe toring op te rig. 
Wanneer mens opgeklim het tot by die ou vuurtoring kan jy Kaappunt self met sy loodregte kranse sien waar dit afreik tot waar die see op die rotse breek. 
Reg onder op Dias Punt is die “nuwe” Kaappuntvuurtoring.  Die hoeksteen van die nuwe toring is op 25 April 1914 gelê, maar dit is eers na die Eerste Wêreldoorlog voltooi en in gebruik geneem. Die toring se lamp wat omtrent 87 meter bo seevlak lê is teen sonsondergang op 11 Maart 1919 deur ‘n driejaaroue meisie, Thurl Cooper, dogter van die die vuurtoring ingenieur H.C. Cooper, aangesteek.  Die nuwe Kaappuntvuurtoring is die kragtigste in Suid-Afrika en die 10 000 000 kerskrag lig flits drie keer elke dertig sekondes.