Bloukransbrug Bungee

Teen 216 meter hoog is die Bloukransrivierbrug op die grens tussen die Ooskaap en Weskaap die hoogste brug in Afrika.  Die brug is een van vyf enkelboogbetonbrûe op die N2 tussen Port Elizabeth en Plettenbergbaai en is 415meter lank.  Maar dis nie regtig hoekom ons hier is nie, is dit?

Die eintlike rede hoekom die Bloukransrivierbrug bekendheid verwerf het is die feit dat dit ook is waar die hoogste brugrekspronge (bungee) in die wêreld plaasvind.  Alhoewel honderde adrenalienverslaafdes elke jaar van die brug afspring met ‘n tou om hulle enkels dink ek dat mens ten minste ‘n klein bietjie van lootjie getik moet wees om jouself daar af te gooi.  As jy na die ouens (en meisies) kyk na hulle weer van die brug afkom is die een ding wat mens wel dadelik raaksien die “post bungee grin” wat heeltemal om hulle koppe sou gaan as hulle nie ore gehad het nie.
 
Ek voeg hierdie derde foto by net om te wys hoe een van daai malletjies lyk daar waar hulle tussen hemel en aarde hang.